Tuesday, December 11, 2007

Happy 2008!


Vandag ploeg Struwwelpeter met ‘n ander ou se kalwers; Hier het ‘n anonieme stukkie Internet filosofie aangekom, wat so lekker lees dat hy dat graag wil deel:

2007.
As dit van my afgehang het, het ‘n jaar vir ewig aangehou. Sonder oujaarspartytjies en nuwejaaroggends-kopseer Sonder oujaar bestekopnemes en nuwejaarsvoornemens. Jy neuk net aan.

Vat nou maar vir Januarie.’n Maand sonder identiteit. Party hou vakansie en die res sukkel om hulle werk gedoen te kry, want die spul wat tjeks moet teken lê op die strand. En dan jaag almal huistoe, terwyl pa sit en mor oor sy overdraft en ma die nuwe rolle om haar middellyf blou knyp. Die res van die maand eet almal viennas en droë krismiskoek, want die kinders se skoolklere kos ‘n plaas se geld.

Februarie. Arme, stomme Februarie , nie eens genoeg dae om ‘n ware maand te wees nie, en kry toe maar Valentynsdag by om te troos. Intussen gooi almal hulle goeie nuwejaarsvoornemens oorboord, begin weer drink,/rook/vreet en verval in diepe depressie.want die hond is weer pregnant en vrou kla sy’s moeg om almal se slaaf te wees.

Maart. Ag, foei tog. Nog vis, nog vlees. Te koud vir somersklere en te warm vir wintersklere. Jy kry ‘n vieslike verkoue en vergeet jou selfoon op die apteek se toonbank. Die rentekoers gaan op en Breggie dreig om universiteit op te skop en haarself te gaan soek on ‘n pelgrimsreis deur Indië . Graeme Smith bedank as Protea kaptein omdat hy meer tyd saam met Herschelle Gibbs wil deurbring.

Dan is dit April. Immers ‘n paar vakansiedae wat die gemoedere opkikker. Maar die Kaap is te duur, en Durban te warm. Dan maar Oudshoorn toe vir die KKNK waar jy jou beursie in die biertuin, jou geduld by die kaartjieskantoor, en jou balans by die brandewynsatalletjie verloor.

Mei. Ons spanne sit op die onderste vyf plekke in die Super 14 punteleer, en die Minister van sport sê dis goed. Die Creepy Crawly verstik aan herfsblare.

Junie is nes Julie, jy spel hom net anders. Die verwarmer brand uit, maar dit maak nie saak nie, want Eskom sny weer krag. Robert Mugabe koop die duurste huis in Clifton en George Bush verklaar oorlog teen Switserland.

Julie het nog nie die son gesien nie. Hy dra ‘n grys mus, langonderbroek en stewels wat sy voete laat stink. Dis nat in Gauteng en droog in die Kaap. Benoni se hoofstraat word herdoop Charlize Theron Boulevard , en daarin open ‘n Charlize Theron droogskoonmaker, ‘n Charlize Theron skoonheidssalon en ‘n Charlize Theron drankwinkel.

Eintlik wou Augustus nog September gewees het. Nou steel hy maar ‘n paar bloeisels en ‘n bietjie son om sy vaal gesig te kleur. Almal karring maar aan, behalwe die adjunk-president die wêreld rondrits in haar jet. Sy ontken dat sy dit as ‘n special by Shaik broers gekoop het.

September is ‘n ander woord vir sinus. Mense snuif, stik en stotter die maand deur. Patricia Lewis en Amor Vittone skryf saam ‘n boek: “Skoonheid vergaan maar silikoon bly staan.” Pa val van die leer af terwyl hy geute skoon maak en Ma sluit by Weight Watchers aan.

Oktober is miskien die mooiste, mooiste maand, maat terwyl die lente sy kleure en geure in ‘n weerbarstige streep oor die landskap trek, klim die herinnering van verspeelde dae onder jou gewete in. Die jaar is amper verby en jy’t nog boggeroll gedoen. Instede is jy luier, dikker en dommer as ‘n jaar gelede.

November begroet jou met ‘n kakofonie van voortydige krismisklanke. Na drie doppe by die office party beledig jy jou baas, lê aan by die ontvangsdame en brand ‘n gat in die duur, gehuurde tafeldoek. Op Guy Fawkes raak die hond, die huishulp en die tuinslang weg. Sussie word naar op haar matriekafskeidrok en boetie kleur sy hare pers.

Desember is die begin van die einde. Steve Hofmeyer en Jacob Zuma stig hulle eie kerk, f*k*f polisiekar stel hulle gospel CD vry en Leon Schuster se nuwe fliek “Daar’s ‘n Xhosa in my kooi” is ‘n weghol sukses. Op oukersaand gee Pappa vir Mamma ‘n bottle “you’re the fire” en mamma maak vir pappa so warm dat hy Kersdag nog vonke doodslaan.

Voorspoedige 2008. Ek kan nie wag nie!

Struwwelpeter 20 Des ’07

No comments: